Memphis (Egipte)

Memphis
Die ruïnes van die suilesaal van Ramses II by Memphis.
Die ruïnes van die suilesaal van Ramses II by Memphis.
Koördinate 29°50′41″N 31°15′3″O / 29.84472°N 31.25083°O / 29.84472; 31.25083
Plaaslike naam  منف
Land Vlag van Egipte Egipte
Soort Nedersetting
Geskiedenis
Stigter Onbekend; het al bestaan in die voordinastiese tyd
Gestig Moontlik 31ste eeu v.C.
Tydperk Vroegdinastiese tydperk tot vroeë Middeleeue
Unesco-wêrelderfenisgebied
Tipe Kultureel
Kriteria i, iii, vi
Verwysing 86
Streek† Arabiese State
Beskrywing* Memphis and its Necropolis – the Pyramid Fields from Giza to Dahshur
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.
* Naam soos op die Wêrelderfenislys

Memphis of Memfis (Arabies: منف, Grieks: Μέμφις) was die antieke hoofstad van Aneb-Hetch, die eerste nomos (provinsie) van Benede-Egipte. Die ruïnes lê sowat 20 km suid van Kaïro.

Volgens ’n legende, soos vertel deur die Egiptiese historikus Manetho, is die stad omstreeks 3000 v.C. deur farao Menes gestig as hoofstad van die Ou Ryk, en het dit regdeur die Mediterreense geskiedenis ’n belangrike stad gebly.[1][2][3] Dit was geleë in ’n strategiese posisie aan die mond van die Nyldelta en was ’n bedrywige sentrum. In sy hoofhawe, Peroe-nefer, was talle werkwinkels, fabrieke en pakhuise wat kos en ander voorraad deur die hele koninkryk versprei het. Tydens sy goue era het Memphis floreer as ’n streeksentrum vir handel en godsdiens.

Daar is geglo Memphis was onder die beskerming van Ptah, die god van ambagsmanne. Sy groot tempel, Hoet-ka-Ptah ("Plek van die siel van Ptah"), was een van die grootste geboue. Die naam van die tempel, wat in Grieks Aί γυ πτoς (Ai-gi-ptos) was, volgens Manetho, is vermoedelik die etimologiese oorsprong van die naam "Egipte".

Die geskiedenis van Memphis was nou verbind met dié van die land self. Sy eindelike val was vermoedelik weens die afname in sy ekonomiese belangrikheid in die laat antieke tyd, ná die opgang van die kusstad Alexandrië. Sy godsdienstige belangrikheid het afgeneem ná die afskaffing van die antieke godsdiens kragtens die Edik van Thessaloniki.

Die stad se ruïnes is vandag ’n bewys van sy verlede. Memphis, saam met die piramidekomplekse tussen Giza en Dahsjoer, is sedert 1979 ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Die publiek kan dit besoek as ’n opelugmuseum.

  1. Bard, Encyclopedia of the Archaeology of Ancient Egypt, bl. 694.
  2. Meskell, Lynn (2002). Private Life in New Kingdom Egypt. Princeton University Press, bl. 34
  3. Shaw, Ian (2003). The Oxford History of Ancient Egypt. Oxford University Press, p.279

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne